Groep laat vaar dalk klagte teen Malema
2011-11-15 22:54
Johannesburg – Die geskorste leier van die ANC-Jeugliga, Julius Malema, sal tot Woensdag moet wag om te hoor of klagte wat teen hom aanhangig gemaak is deur die SA Minority Rights Equality Movement (Samrem) laat vaar is.
Dít het aan die lig gekom ná ‘n vergadering in Pietermaritzburg tussen Malema en Samrem-beamptes Dinsdagaand.
Ashwin Singh, woordvoerder van Samrem, het gesê daar was Dinsdagaand eenstemmigheid tussen Malema en die Samrem-beamptes.
“Daar is ‘n algemene eenstemmigheid dat die klagte teen Malema teruggetrek sal word. Ons benodig egter ‘n mandaat van die uitvoerende komitee om dit te finaliseer,” het Singh ná die vergadering aan die media gesê.
Hy het bygevoeg dat ‘n vergadering Woensdag sal plaasvind, waar die besluit geneem sal word.
Malema, wat deur die geskorste ANCYL-woordvoerder Floyd Shivambu en die woordvoerder Magdalene Moonsamy vergesel is, het die vergadering as belangrik beskryf.
“As Afrikane toon ons respek deur persoon tot persoon te praat. Telefoniese gesprekke sou nie genoegsaam wees om die kwessie te takel nie,” het Malema gesê.
Die vergadering is voorafgegaan deur Malema se neerhalende verwysing na Indiërs, wat Samrem ontstel het en daartoe gelei het dat die klagte teen hom ingedien is.
Samrem het gesê klagte van crimen injuria teen Malema is op 4 November by die Mountain Rise-polisiekantoor in Pietermaritzburg ingedien nadat hy na Indiërs as “makula” (“koelies”) verwys het tydens ‘n toespraak in Gauteng.
Singh het die geskorste ANCYL-president as beleefd, hoflik en waardig beskryf.
Malema het gesê hy het geen aanstoot bedoel nie en sal ook nie weer die woord gebruik om na Suid-Afrikaners van Indiese afkoms te verwys nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA