Groep jaag weg met vrou se baba
2011-10-13 08:07
Kimberley. – ’n 18 maande oue seuntjie is naby die Shell Ultra City op die N12-hoofweg ontvoer nadat hy en sy ma geryloop en opgelaai is.
Konst. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die eenheid teen gesinsgeweld en seksuele misdade en vir kinderbeskerming het ’n grootskeepse soektog begin.
“Die voorval het omstreeks 19:35 Dinsdag gebeur.
“Sy 28-jarige ma, Amanda Linda Msimanga, oorspronklik van Soweto, sê sy was op pad van Vryburg na Kimberley. Sy moes haar man in Kimberley ontmoet.
“Hulle sou van hier saam na Bloemfontein vertrek.”
Volgens haar is sy en haar kind deur drie mense in ’n wit Toyota Corolla opgelaai.
Hulle het Afrikaans met mekaar gepraat. ’n Man en vrou het voor gesit en ’n derde man agter by haar en die kind.
“Toe hulle naby die vulstasie was, het die bestuurder afgetrek. Hy het haar beveel om uit die motor te klim. Voordat sy haar kind kon uithaal, het hulle weggejaag.”
Die seuntjie, Buhle, was geklee in ’n rooi en groen sweetpak.
Die bestuurder het ’n donker gelaat en het ’n swart broek en wit en blou hemp aangehad. Hy dra ’n groen pet. Die vrouepassasier het ligbruin gelaatstrekke en het ’n goue en bruin tradisionele rok aangehad.
Die ander man het ’n kakiebroek en bruin hemp aangehad. Die blitspatrollie en honde- en opsporingseenheid het die omgewing deur die nag en Woensdag gefynkam.
Enigiemand met inligting kan ao. Elizma Roos by 0 082 566 4512 bel.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld