‘Griewe van wit wanbetalers is geldig’
2010-03-11 09:16
Lizel Steenkamp, Beeld
Kaapstad. – Wit belastingbetalers wat hul dienstegeld uit protes teen swak dienslewering weerhou, se griewe is inderdaad geldig.
Met dié bekentenis het Yunus Carrim, adjunkminister van koöperatiewe regering, Woensdag versoenend opgetree teenoor wit wanbetalers.
Sicelo Shiceka, minister, het dié groep verlede week beskuldig dat hulle munisipaliteite “ondermyn” en onwettige “parallelle regerings” vorm.
“Hul griewe is inderdaad geldig. Ons respekteer hulle en ons is jammer oor die (swak) dienslewering, maar verandering gaan nie oornag gebeur nie,” het Carrim Woensdag by die parlement aan Beeld gesê.
Shiceka het verlede week gedreig om die Nasionale Belastingbetalersunie (NBU) hof toe te sleep as onderhandelings met hulle nie vrugte afwerp nie.
Inwoners van sowat 300 dorpe weerhou hul belasting en dienstegeld onder leiding van die NBU. Die geld word in afsonderlike rekenings in betaal en gebruik om dienste op eie houtjie reg te ruk.
Carrim het Woensdag teruggekrabbel dat Shiceka sy bes gaan probeer om die NBU “oor te wen”. “Munisipaliteite moet reggeruk word en ons het hul vaardighede en ervaring nodig.”
Volgens hom is die weerhouding van dienstegeld ’n “negatiewe reaksie”. “Hulle (raadslede en munisipale amptenare) sien die NBU (weens dié optrede) nie as vennote nie, maar eerder as teenstanders.”
Die NBU het Shiceka Maandag in ’n ope brief oor sy uitlatings getakel en gewaarsku gewelddadige protesoptogte oor swak dienslewering gaan “handuit ruk en die regering sal dit nie kan beheer nie”.
Woede oor swak dienslewering het eergister naby Pretoria oorgekook toe duisende inwoners van Mamelodi-Oos gedreig het om WB 2010 te ontwrig omdat hulle 16 jaar ná demokratisering steeds nie huise, elektrisiteit, lopende water of spoeltoilette het nie.
Carrim het erken ook dié inwoners het geldige klagtes, maar bygevoeg dit word aangehits deur “binnegevegte” in die ANC en ’n gestoei om plekke op die kandidatelyste vir volgende jaar se munisipale verkiesings.
Vuyelwa Qinga-Vika, Shiceka se woordvoerder, het bevestig die minister het die NBU se brief ontvang en dat die taakspan gemoeid met munisipaliteite gevra is om ’n dringende vergadering met die unie te fasiliteer.
Shiceka se departement het gister aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) terugvoering gegee oor die R1,2 miljard wat munisipaliteite aan die tesourie moes teruggee omdat hulle dit nie in die 2008-’09-boekjaar bestee het nie.
Die geld was vir infrastruktuurontwikkeling soos watervoorsiening en paaie bedoel en die onderbesteding het Skoor-lede omgekrap.
“Mens kan seker sê die onderbesteding het tot die protesoptogte bygedra,” het Elroy Africa, waarnemende direkteur-generaal, onder druk toegegee.
- Beeld