Griekwastad-seun 'kan gevaar wees vir ander'
2012-11-06 09:23
Johannesburg – Die minderjarige wat aangekla word van die gru-moorde op 'n gesin van Griekwastad kan 'n gevaar wees vir ander, het die staat aangevoer.
Die minderjarige moordbeskuldigde is op 3 September op borgtog van R5 000 in die Griekwastad-landdroshof vrygelaat nadat hy in hegtenis geneem is in verband met die moorde op Deon, Christel en Marthella Steenkamp. Hulle is op Goeie Vrydag op hul plaas, Naauwhoek, doodgeskiet.
Uitspraak in die appèlsaak teen borgtog wat aan die tiener toegestaan is, is Maandag tot verdere kennisgewing voorbehou.
JJ Cloete, staatsaanklaer, voer aan dat die landdros 'n fout begaan het in sy bevinding dat die seun nie 'n gevaar is vir diegene om hom nie.
Cloete sê die landdros het die beweerde geweld wat in die aanklagte vervat is, onderbeklemtoon en dat die seun se belange oorbeklemtoon is.
Adv. Susan Erasmus, die seun se regsverteenwoordiger, het aan die hof gesê dat die tiener nog nie aangekla is nie en dat daar steeds 'n kans is dat hy onskuldig kan wees.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA