Griekwastad sal 'nooit weer dieselfde wees'
2012-08-23 06:35
Griekwastad – Die gemeenskap van Griekwastad is verpletter nadat 'n 16-jarige seun in verband met die moorde op die Steenkamp-egpaar en hul 14-jarige dogter in hegtenis geneem is, berig Volksblad.
'n Sakeman en verskeie inwoners wat anoniem wou bly, het aan die koerant gesê dié tragedie het die hele gemeenskap geruk.
Die sakeman het net sy kop bly skud en gesê: “Hoe kan ’n ouer ’n kind begrawe sonder dat hulself gebreek word? Die dorp sal nooit meer dieselfde wees nie.”
’n Emosionele boer het kort-kort trane afgevee terwyl hy oor sy heining geleun het.
“Die gemeenskap bloei behoorlik. Die wonde is diep en rou. Sal die vrae werklik beantwoord word? Ons vermoed die minderjarige se regspan gaan hom beskerm. Sal hy ooit getuig? Sal ons die antwoorde kry op die vrae wat ons pla? Berusting begin eers wanneer antwoorde verskaf word,” het hy gesê.
“Ek kon dit nie glo toe ek die eerste SMS daardie aand van die moord ontvang nie. Ek het geswets en gesê mense moet ophou skinder. Maar dit was waar. Dit was hier in ons vreedsame gemeenskap...
“Ek is so vreeslik jammer vir oom Don en tannie Bettie, Deon se bejaarde ouers. Hoe moet dit voel om ’n geliefde kind en kleinkind te begrawe? Sy gesondheid is juis nie goed nie. Sal hy die spanning kan hanteer?”
’n Buurvrou het gesê almal se harte is stukkend oor die hele gesin.
“Ons sukkel om dit te verwerk. Mense begin hulle onttrek. Ons wil niks meer sê nie.”
Die 16-jarige sal na verwagting Donderdag in die hof verskyn en die regspanne van die staat en verdediging gaan vandag die borgtogaansoek van die minderjarige bespreek en finaliseer en die klagstaat teken.
Landdros Sipiwe Maswi van Groblershoop sal op die bank wees nadat die plaaslike landdros, Christo Els, homself verskoon het omdat hy die gesin goed geken het.
Maswi sal ook ’n aansoek van die media aanhoor waarin hulle vra om die borgtogaansoek van die minderjarige by te woon en om daaroor te berig.
Stoffel de Jager, prokureur vir die verdediging, het aangedui dat hy nie beswaar gaan maak teen die media se aansoek nie. Hofsake waarin minderjariges betrokke is, is gewoonlik in camera, maar die openbare belangstelling in die saak is oorweldigend.
– Volg Nuus24 op Twitter