Griekwastad-moorde: Forensiese span op plaas
2012-04-12 09:00
Video - Emosionele roudiens vir Marthella Steenkamp
'n Emosionele roudiens is vir die 14-jarige Marthella Steenkamp, een van die slagoffers van die Griekwastad-moorde, in Bloemfontein gehou.
KYK
Kimberley – Die lyke van Deon Steenkamp (44), sy vrou, Christel (43), en dogter, Marthella (14), is Woensdag in Bloemfontein deur patoloë vir forensiese bewyse ondersoek.
Die speurders van die Valke wat die egpaar en hul dogter se skietdood ondersoek, was teenwoordig.
Terwyl familie en vriende vandag op ’n roudiens op Griekwastad van die egpaar en hul dogter afskeid neem, sal ’n forensiese span van die polisie uit Pretoria die plaas en opstal verder fynkam.
Die egpaar en hul dogter is op Goeie Vrydag omstreeks 18:30 in hul plaashuis op die plaas Naauwhoek naby Griekwastad doodgeskiet. Die egpaar se seun, Don (15), is die enigste oorlewende.
Volgens die polisie het die jong Steenkamp gesê hy was buite in die pakskuur toe hy die skote gehoor het. Hy het die huis binnegehardloop en op sy ouers en susters se lyke in die TV-kamer afgekom.
Hy het in ’n voertuig geklim om die moorde in die dorp by die polisiekantoor aan te meld toe hy op ’n .22-geweer en ’n .357 Magnum-rewolwer afkom wat in die pad gelê het. Dit was sy pa se vuurwapens. Die kluis is na bewering oopgesluit.
’n Staatspatoloog het gister by navraag gesê soms kan die uitkoms van ’n moordverhoor deur slegs die lyskouingsverslag bepaal word. Dit kan die getuienis van getuies weerspreek of bevestig.
“Eerstens moet ons bepaal watter koeëlwond die dood veroorsaak het en of die persoon nog geleef het ná die eerste skoot. Sou die gewonde persoon moontlik kon terugskiet, en het die persoon probeer om haarself of homself te verdedig? Dit is nie altyd moontlik om te sien of daar selfverdediging was nie.
“Soms is daar ’n groep koeëlwonde wat saam die dood veroorsaak het.
“Wanneer ’n paar mense die skietwerk gedoen het, kan ons bepaal watter koeël die dood veroorsaak het om aanspreeklikheid te help bewys.
“’n Wond wat deur ’n .22-geweer veroorsaak is, is gewoonlik klein. Daar is nie genoeg trefsnelheid om deur die liggaam te trek nie. Daar is dus net ’n ingangswond.
“Die koeëls van ’n .357Magnum-rewolwer het genoeg trefkrag om deur die liggaam te trek, maar kan teen digte been vasval,” het hy gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger