Griekwastad-moorde: Don 'bewus van gerugte'
2012-04-19 10:00
Fotogalery - Griekwastad-moorde: Gedenkdiens gehou
klik op klein foto bo om groter prentjie te sien
Bloemfontein – Terwyl die polisie hul ondersoek na die Paasnaweek-moorde op Griekwastad voortsit, hou Don Steenkamp, die enigste oorlewende van die treurspel, hom besig met sy perdry.
OFM berig Hannelie Heckroodt, die tiener se Gimkana-instrukteur en die gesin waarmee Don (15) tans woon, sê dit gaan goed met seun as ‘n mens die omstandighede in ag neem.
Heckroodt sê die seun het Maandag sy skoolloopbaan aan Grey-kollege (Sekondêr) hervat, maar het Woensdag na die plaas teruggekeer.
Sy het bygevoeg dat Don bewus is van die “gerugte” wat die ronde doen.
In die binnekringe van die polisie is gesê ’n tienerseun is die enigste verdagte in die ondersoek na die skietdood van Deon Steenkamp (44), sy vrou, Christel (43), en hul 14-jarige dogter, Marthella, het Beeld vroeër vandeesweek berig.
Me. Steenkamp is moontlik eerste geskiet. Sy is glo twee keer geskiet waar sy voor die rekenaar gesit het. Die doodskoot was in haar agterkop.
Beeld het berig mnr. Steenkamp is vermoedelik tweede geskiet. Hy is glo drie keer geskiet; een keer in die kop.
Marthella is na bewering twee keer geskiet; in die sy en in die kop.
Die vermoede is tans dat daar slegs een skieter was.
Dit is nog nie duidelik wanneer Don na sy skool sal terugkeer nie.
Heckroodt sê hulle vat dinge nou een dag op ‘n slag, het OFM berig.
Volg Nuus24 op Twitter