Griekwastad-moorde: 'Direkte bewyse' teen tiener
2012-08-24 14:31
Kaapstad – Die staat het bewyse in die Griekwastad-kinderhof voorgelê in verband met die opspraakwekkende moord op die Steenkamp-egpaar en hul dogter.
Sapa berig die staat het dokumente, wat ‘n 22 bladsy lange beëdigde verklaring, foto-albums en verslae van deskundiges insluit, aan Willem Coetzee, die moordverdagte se regsverteenwoordiger, oorhandig.
Jacques Steenkamp, ‘n verslaggewer vir Rapport, het vanuit die hof oor die verrigtinge getweet.
Hy sê kol. Dick de Waal, ‘n ondersoekbeampte, het gesê daar is direkte bewyse wat die tiener met die moorde verbind.
Die tiener is vroeër vandeesweek by ‘n Bloemfonteinse skool in hegtenis geneem in verband met die moord op Deon, Christelle en Marthella Steenkamp. Hulle is op Goeie Vrydag op hul plaas vermoor.
Die enigste oorlewende van die gesin, Don, het gesê hy was buite in die pakskuur toe hy die skote gehoor het.
Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24