Griekwastad-moorde: Borgaansoek uitgestel
2012-08-24 18:46
Kimberley – Die borgaansoek van ‘n 16-jarige seun in die Griekwastad-kinderhof is Vrydag uitgestel.
Landdros OS Maswi het gesê hy sal op 3 September ‘n beslissing maak
Willem Coetzee, die seun se verdediging, het aan die hof gesê die staat het geen direkte bewyse wat die seun met die Griekwastad-moorde verbind nie.
Die verdagte het Donderdag en Vrydag in die kinderhof op Griekwastad vir sy borgtogaansoek verskyn nadat hy vroeër die week by sy skool in Bloemfontein aangekeer is in verband met die moord op Deon, Christelle en Marthella Steenkamp op Goeie Vrydag op hul plaas Naauwhoek.
Volgens die polisie het die enigste oorlewende van die gesin, Don, gesê hy was buite in die pakskuur toe hy die skote gehoor het.
Hy het die huis na bewering binnegehardloop en op sy ouers en susters se lyke afgekom. Daarna het hy die moordwapens na die polisiestasie geneem.
“Niks dui daarop dat hy die moorde gepleeg het nie. Dit is alles omstandigheidsgetuienis, selfs die DNS is omstrede, "het Coetzee aangevoer.
Hy het die ondersoekbeampte, kol. Dick de Waal, kruisondervra. De Waal hou vol die bewyse is beduidend.
Volgens Coetzee het die staat en De Waal die brutaliteit van die moorde oorbeklemtoon. Hy voer aan dat die ondersoekbeampte se benadering tot die borgaansoek geen fondasie het nie en dat hy “ongegronde” aannames maak.
Hy is van mening dat die seun, minstens as ‘n kind, geregtig is tot borgtog. Coetzee sê die ondersoekbeampte is bevooroordeel, maar dat dit te verwagte is van ‘n polisiebeampte om in sy ondersoek te glo.
Nietemin was die aannames wat hy voor die hof gemaak het egter ongegrond.
Die aanklaer, Hannes Cloete, het gesê die verdediging se getuies is subjektief. Die getuies is die familie wat die seun ondersteun en sy maatskaplike werker.
Cloete hou vol die staat het ‘n sterk saak.
Hy het gesê die ondersoek is byna voltooi en sê ‘n aanklag en verhoordatum kan binne ‘n maand voltooi wees.
Die seun word by ‘n fasiliteit in Kimberley aangehou tot die borgverhoor afgehandel is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA