Griekwastad-moorde: Bespiegelings 'sny diep'
2012-04-10 09:01
Port Elizabeth – Bespiegelings oor wie drie lede van die Steenkamp-gesin van Griekwastad op Goeie Vrydag op hul plaas vermoor het, “sny diep”.
Maritha Massyn (38) van Port Elizabeth het Sondag aan Die Burger vertel haar suster Christelle Steenkamp, swaer Deon Steenkamp en hul twee kinders was ’n hegte gesin.
Don Steenkamp (15), ’n gr.10-leerder aan Grey Kollege in Bloemfontein, is die enigste oorlewende van die moorde waarin sy suster, Marthella (14), wat ook in Bloemfontein in ’n kosskool was, ook gesterf het.
“Hul ouers het baie moeite gedoen om hulle soveel moontlik naweke huis toe te bring, ongeag die onkoste,” het Massyn gesê.
Massyn is die jonger suster van mev. Steenkamp (40), wie se lyk op Goeie Vrydag langs dié van haar man (41) en hul tienerdogter in hul plaashuis gevind is.
“Dit is onder die omstandighede vir my ouers bitter swaar,” het Massyn oor mnr. en mev. Boelie Massyn van Jeffreysbaai gesê.
Volgens Massyn het die polisie nog niks verdere inligting aan hulle gegee nie en dit was erg om in die koerante te lees dat die polisie sê “hulle het moontlik klaar antwoorde” oor wat gebeur het.
Kol. Hendrik Swart, ’n polisiewoordvoerder, het vroeër aan Die Volksblad, susterskoerant van Die Burger, gesê Don het genoem hy was in die skuur, waar hy die skote gehoor en toe in die huis ingehardloop het, waar hy op sy ouers en suster se lyke afgekom het.
Massyn het gesê haar suster en swaer was “wonderlike mense wat baie betrokke was by hul gemeenskap”.
“Sy was die soort mens op wie se knoppie jy altyd kon druk om te help met iets, al was sy ook hoe besig.”
Massyn het vertel me. Steenkamp het ’n tuisnywerheid uit haar huis bedryf en het mense in diens geneem om te help met die bakwerk.Benewens haar jonger suster en ouers word Steenkamp ook oorleef deur nog ’n suster, Annette Conradie (41).
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger