Griekwastad: Kruit op tiener se klere gevind
2012-08-22 06:45
Bloemfontein – Die tienerseun wat verdink word van die moorde op die Steenkamp-gesin van Griekwastad, sal na verwagting Donderdag om borgtog aansoek doen.
Die uitslag van forensiese toetse het daartoe gelei dat hy Dinsdag in hegtenis geneem is, het Beeld berig.
Kruit is glo op die seun se klere gevind en sy vingerafdrukke was op die twee wapens wat vermoedelik in die skietery gebruik is. Die polisie het op die uitslag van dié toetse gewag voordat hulle ’n inhegtenisneming kon doen.
Dít dui daarop dat die uitslag hom waarskynlik verbind met die dood van Deon (44) en Christel Steenkamp (43) en hul dogter, Marthella (14). Hulle is op 6 April op die plaas Naauwhoek, sowat 9 km buite die dorp, vermoor.
Die egpaar se seun, Don, is die enigste oorlewende van die treurspel.
Die verdagte is Dinsdag kort ná 09:00 by sy skool in hegtenis geneem.
Kapt. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, het bevestig die Valke het Dinsdagoggend ’n minderjarige in Bloemfontein in hegtenis geneem.
Die seun is na die kantoor van die Valke in Kimberley gebring, waar lang samesprekings gevoer is tussen onder andere die polisie en sy regsverteenwoordigers.
Die seun is Dinsdagmiddag na ’n plek van veiligheid gebring, waar hy aangehou sal word.
– Volg Nuus24 op Twitter