Griekwastad: 'Geen rede' om seun uit skool te hou
2012-09-13 07:00
Bloemfontein – Die tiener wat teregstaan weens die moord op die Steenkamp-gesin van Griekwastad, sê daar is geen rede hoekom hy nie na sy skool kan terugkeer nie, het 'n familievriend gesê.
Samesprekings tussen die spogskool en die seun se regspan duur voort, berig Volksblad.
Bennie Heckroodt, ’n familievriend, het gesê hulle het Dinsdag met die voorsitter van die beheerliggaam en die skoolhoof vergader en wag nog vir 'n brief van die skool.
“Hulle gaan in ’n brief sê waarvoor hulle kans sien en dan moet ons besluit of ons daarvoor te vinde is,” het Heckroodt verder gesê.
“Ek dink nie daar is ’n rede om hom uit die skool te hou nie.”
Volgens 'n ingeligte sal die skool en die seun se regspan hopelik dié week nog tot ’n vergelyk kom.
Die skool se beheerliggaam het vroeër besluit om die seun nie tot die skool of skoolkoshuis toe te laat terwyl hy verhoorafwagtend is nie.
Die tiener is verlede Maandag ná ’n week in aanhouding deur landdros Oswald Mazwi in die Griekwastad-landdroshof op borgtog vrygelaat. Hy is vroeër in hegtenis geneem in verband met die moorde op Deon Steenkamp, sy vrou, Christelle, en hul dogter, Marthella. Hulle is op Goeie Vrydag op hul plaas, Naauwhoek, doodgeskiet.
Hy sal weer op 1 Oktober in die hof verskyn vir die vasstelling van ’n verhoordatum in die hooggeregshof.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter