Griekwastad: Appèl-uitspraak eers later
2012-11-05 14:48
Kimberley – Uitspraak in die appèlsaak teen borgtog wat aan 'n tiener van Griekwastad toegestaan is, is tot verdere kennisgewing voorbehou, berig OFM.
Die minderjarige moordbeskuldigde is op 3 September op borgtog van R5 000 in die Griekwastad-landdroshof vrygelaat.
Adv. Sharon Erasmus, wat vir adv. Willem Coetzee instaan, het die minderjarige verteenwoordig.
Erasmus het aangevoer dat dit ingevolge die Wet op Kindergeregtigheid die laaste opsie is om 'n minderjarige in aanhouding te hou.
Sy het gesê die feit dat die minderjarige 'n kind is, as buitengewone omstandighede gesien kan word. Erasmus het ook uitgewys dat inhegtenisneming 'n negatiewe impak op die beskuldigde se opvoeding kan hê.
Erasmus het verder gesê indien die appèl onsuksesvol is, 'n kostebevel teen staat toegestaan word.
Die staatsaanklaer JJ Cloete het Maandag aan die hof gesê waarom die beskuldigde se borgtog teruggetrek moet word. Volgens Cloete het die hof slegs gefokus op die Wet op Kindergeregtigheid en sodoende belangrike aspekte van die Strafproseswet geïgnoreer.
Hy het verder aangevoer dat die seun se belange in polisie-aanhouding steeds in gedagte gehou sal word.
Die minderjarige word van die gru-moorde op Deon, Christel en Marthella Steenkamp beskuldig. Hulle is op Goeie Vrydag op hul plaas, Naauwhoek, doodgeskiet.
– Volg Nuus24 op Twitter