Griekwastad: Appèl teen borgtog aangehoor
2012-10-04 07:20
Johannesburg – Die staat se aansoek om verlof tot appèl teen die borgtog wat toegestaan is aan die tiener wat daarvan verdink word dat hy die Steenkamp-gesin vermoor het, sal Donderdag aangehoor word.
Die 16-jarige seun het Maandag vlugtig in die Griekwastad-landdroshof verskyn.
JJ Cloete, staatsaanklaer, het aangevoer dat die landdros 'n fout begaan het in sy bevinding dat die seun nie 'n gevaar is vir diegene om hom nie.
Cloete het in sy mosie van kennisgewing gesê die seun het tydens sy borgtogaansoek geen aanduiding gegee of hy onskuldig was nie en dat hy vir die polisie gejok het.
Die staat het verder aangevoer dat hy 'n sterk saak teen die tiener het.
Cloete sê die landdros het die beweerde geweld wat in die aanklagte vervat is onderbeklemtoon en dat die seun se belange oorbeklemtoon is.
Phaladi Shuping, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag in die Noord-Kaap, het gesê die verhoor sal op 11 Maart 2013 begin.
Die tiener is vroeër in hegtenis geneem in verband met die moorde op Deon Steenkamp, sy vrou, Christelle, en hul dogter, Marthella. Hulle is op Goeie Vrydag op hul plaas, Naauwhoek, doodgeskiet.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA