Grafmoord: Slagting was glo weens fantasieë
2011-11-22 07:05
Tom de Wet en Marisa Phillips
Virginia – Michael van Eck (23) se grusame begraafplaasmoord in Welkom is waarskynlik die gevolg van die fantasieë van twee mense wat in ’n totale vakuum van hul eie geleef het.
Hul spesiale verhouding, waarin hul werklikheid van die norm verskil, het ’n “ontploffing” veroorsaak wat tot die moord gelei het.
Hulle het geglo dat die moord, soos met hul doodmaak en slagting van katte, hulle nader aan mekaar sou bring.
Die opspraakwekkende moord en die skending van Van Eck se lyk het egter nie die gewenste uitwerking gehad nie en Chané van Heerden (21) “sou beslis weer moor” as sy nie gevang is nie. Sy en Maartens van der Merwe (25) was reeksmoordenaars in wording.
Dié feite het Maandag in die rondgaande hof op Virginia na vore gekom kort nadat Van Heerden skuld op aanklagte van moord, lykskending en roof met verswarende omstandighede beken het.
Van der Merwe se verhoor is tot 24 Februarie uitgestel, omdat hy weer vir sielkundige waarneming, dié keer na Weskoppies, gestuur gaan word. Hy is reeds as jong seun tot skisofreen verklaar.
Die twee beskuldigdes het langs mekaar met hul vingers inmekaar gestrengel en skynbaar emosieloos, in die beskuldigdebank gesit terwyl die media foto’s van hulle geneem het. Hul verhore is geskei nadat Van Heerden skuld beken het.
Die twee se verlowingsritueel, ’n dag ná die moord, is Maandag voor regter A. Kruger geopenbaar.
Adv. Johan de Nysschen, staatsadvokaat, het gesê hy het getuienis dat die twee mekaar gesny het, die bloed in ’n bakkie opgevang het en toe die verloofringe daarin laat lê het.
Van Heerden, met lang, los, pikswart hare, het Maandag ’n breë silwer ring aan haar trouvinger gedra.
Die swart kleursel was heeltemal uit Van der Merwe se hare gewas. Hy was aanvanklik in ’n swart pak geklee, maar het ná die etensbreuk ’n rooi T-hemp met die woorde Iron Man gedra. Van Heerden was in ’n blou-pers T-hemp en denimbroek geklee.
Net Van der Merwe se ma, Salome van der Merwe, ’n onderwyseres van Welkom, was in die hof.
Van Heerden se ouers het nie die verrigtinge bygewoon nie.
Van Eck se ouers, Naas en Henriette van Eck, was saam met verskeie ander familielede in die hof.
Hulle het ná die skuldigbevinding hul teleurstelling uitgespreek dat die verrigtinge teen albei beskuldigdes nie nou afgehandel gaan word nie. Mev. Van Eck het gevra hoeveel keer Van der Merwe nog verwys moet word. Hy is reeds deur verskeie deskundiges geëvalueer.
Elizabeth Vergottini, maatskaplike werker wat in psigo-sosiale verslae spesialiseer, het vir die verdediging getuig dat Van Heerden geen berou toon nie.
Volgens Van Heerden se bekentenis in die hof het sy ’n afspraak met Van Eck op die internet-geselswebwerf 2go gemaak om hom op 2 April 2010 om 21:00 in die Welkomse begraafplaas te ontmoet.
Daar het sy op ’n laken vir hom gesit en wag. Ná sy aankoms het hulle gepraat, maar hy het iets gehoor en opgespring. Hy is toe deur Van der Merwe met ’n mes aangeval. Sy het Van Eck self ook later met ’n mes begin steek.
Hulle het hierna van sy liggaamsdele verwyder en hom in ’n vlak graf, wat hulle met lepels en messe gegrawe het, begrawe.
Van Eck se kop, hand, voet en arm is in plastieksakke agter in sy motor gelaai en na hul blyplek in die stad gebring. Daar het die verdere lykskending plaasgevind.
Die getuienis van vier deskundiges gaan vandag deur die staat ter verswaring van vonnis aangebied word.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad