Grafmoord: Michael was 'gom' van gesin
2011-11-24 07:04
Tom de Wet en Marisa Phillips
Virginia – Haar kleinkinders se onskuld is gesteel en hul oom se grusame moord het hulle vir God kwaad gemaak. Hulle het gedink skelms is mense met maskers wat in die nag inbreek – nou is hulle bang vir almal.
Dié woorde het Henriette van Eck Woensdag uit ’n brief van haar oudste dogter, Natasha, in die rondgaande hof in die verhoor van haar seun se moordenaar voorgelees.
Natasha se twee seuns, vier en agt jaar oud, se lewe het vir ewig verander ná die moord van hul oom, Michael van Eck (23), vroeër vanjaar in die Welkomse begraafplaas.
“Hul kindwees is weggeneem. Hulle is honger vir vreugde en lag, maar bekommer hulle nou oor die grootmense in hul lewe.”
Mev. Van Eck, duidelik gespanne, het nie een keer na die beskuldigde, Chané van Heerden (21), in die beskuldigdebank gekyk terwyl sy haar dogters se briewe aan regter A. Kruger voorgelees het nie. Sy het hard teen die trane geveg.
Die spanning van die afgelope drie dae was Woensdag ook duidelik op Chané, wat tot nou toe vir fotograwe geglimlag het, se gesig te sien en ná ’n konsultasie met haar regsverteenwoordiger het dit gelyk asof sy gehuil het.
Mev. Van Eck sê dit gaan nie goed met haar kinders nie en sy is bekommerd oor haar eie huwelik. Sy self kry behandeling ná die moord.
Veral haar dogter, Bianka (25), wat nog altyd baie naby aan Michael was, bekommer sy haar oor. Bianka is nie wel nie en woon ook nie die hofverrigtinge by nie.
In Bianka se brief sê sy daar is spanning in haar huwelik, sy drink pille om te slaap, en ander pille in die dag, anders haal sy haar aggressie op haar man uit.
Al vier, Natasha (30), Michelle (27), Bianka (25) en Rinie (22), het gewig verloor. Bianka kou haar naels tot in die vleis.
“Ons gesin het net vir mekaar gelewe. Hy was my alles en die gom wat ons gesin aan mekaar gehou het. My man werk lang ure en Michael het pa gestaan vir ’n kleinkind wat ek en my man grootmaak. Ek wou my vergas in sy kar. Ek moes dit later weggee, want as ek uitkom, het die kar my aan hom herinner.
“Alles is besoedel. My man moet my nagte lank troos. Die dag van die gruwelmoord het ons lewens verwoes, dit was soos ’n hamerslag. Dit maak my mal. Watter angs, pyn en lyding het my kind se dood voorafgegaan? Hy was so ’n trotse kind, baie dinge maak steeds nie vir my sin nie.
“Ek vra dat sy (Chané) vir die res van haar lewe uit die samelewing verwyder word.”
Mev. Van Eck sê as sy nou vir haar kind gaan kuier, moet sy blomme op sy graf sit.
In ’n gesprek met Volksblad het mev. Van Eck gesê dit is snaaks hoeveel klein dingetjies sy nou van Michael onthou. “Ek onthou die dag toe hy gebore is – hoe kwaad ek vir die suster was omdat sy sy haartjies met ’n naelborsel wou kam.”
Die verhoor word Vrydag hervat wanneer nog ’n psigiater voor vonnis oor Chané sal getuig.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad