Graanboere wil toi-toi
2010-03-05 05:31
Kaapstad - Verskeie afgevaardigdes by Graan SA se jaarkongres by Bothaville het versoek dat dié organisasie ‘n protesaksie reël waar boere aan hulle frustrasies uiting kan gee en ‘n boodskap aan die regering kan oordra.
Dít volg nadat Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, wat vandag die kongres sou toespreek, dit nie kon bywoon nie.
Volgens dr. Kobus Laubscher, hoofbestuurder van Graan SA, is ‘n parlementêre sessie vir vandag gereël wat alle lede moet bywoon.
“Goeie maniere gaan ons nêrens bring nie”
Na Laubscher aan afgevaardigdes verduidelik het wat sy organisasie alles vir die volgende jaar beoog en watter kwessies herhaaldelik onder die Regering se aandag gebring gaan word, het verskeie afgevaardigdes hulle frustrasies uitgespreek.
‘n Boer het gemeen dat ‘n protes-aksie “die enigste taal is wat die regering verstaan. Goeie maniere gaan ons nêrens bring nie!”
Nog ‘n afgevaardigde het gesê dat die komende jaar se gebeure fyn dopgehou gaan word. “Maar as die wind wes bly waai dink ek ons moet die kongres vra om vir ons ‘n pad aan te dui.
Ons moet ’n manier kry om die mense wat die speelveld vir ons gelyk moet maak, te kry om tot die stryd toe te tree.”
Lees meer op landbou.com.