Gr. 11 wen saak teen departement
2010-02-25 18:26
Johannesburg – Die A-student van Krugersdorp het sy hofsaak teen die Gauteng se onderwysdepartement gewen en mag nou in gr. 12 wees sonder om sy gr. 11-eksamens te skryf, het sy prokureur Donderdag gesê.
Die hooggeregshof in Johannesburg sal nou gevra word om die departement se besluit ‘n hofbevel te maak, het Lynette Steyn, wat Edwin Botha van Hoërskool Noordheuwel verteenwoordig, gesê.
Botha sal nog moet uitvind of hy sy posisie as onderhoofseun sal behou, het sy bygevoeg.
Botha is in Oktober uit die skool voordat hy sy gr. 11-eksamen geskryf het.
Hy het beweer dat hy getraumatiseer is deur ‘n inlywingseremonie vir nuwe prefekte.
Die skool het die inlywing beskryf as ‘n spanbou-oefening.
Die onderwysdepartement het ‘n sielkundige verslag oor Botha aanvaar as ‘n geldige mediese sertifikaat en as ‘n geldige rede vir sy afwesigheid van sy eksamens, het Charles Phahlane, woordvoerder vir die onderwysdepartement, in ‘n verklaring gesê.
Die departement het ook Botha se gr. 11-punte in ag geneem.
Botha het oorspronklik beplan om na ‘n ander skool te skuif, maar het in Desember van besluit verander en gevra of hy kan terugkeer na sy ou skool.
Die skoolhoof, Jac Fourie, het na bewering ‘n geskrewe ooreenkoms gegee dat Botha as gevolg van sy uitstekende akademiese rekord na gr. 12 bevorder sal word.
Tog het Botha later ‘n brief van die Gautengse onderwysdepartement ontvang wat gesê het dat hy mag terugkeer na die skool, maar as ‘n gr. 11-leerling.
Die hof het die skool intussen beveel om Botha as ‘n gr. 12-leerling in te skryf, maar indien hy die saak sou verloor, sou hy teruggeplaas word na gr. 11.
- Sapa