Gouws wys glo waar Henning geskiet moet word
2012-11-27 13:40
Pretoria – Die moordbeskuldigde André Gouws het die plek uitgewys waar Chanelle Henning vermoor moet word, het die Pretoriase hooggeregshof Dinsdag gehoor.
"Ons het Gouws op sy blou BMW-motorfiets na Garsfontein agtervolg," het die veroordeelde moordenaar Willem Pieterse getuig.
"Ons het na Garsfontein gery, waar Chanelle geskiet is."
Pieterse getuig in Gouws en die voormalige Nigeriese Olimpiese atleet Ambrose Monye se moordverhoor.
Hy het gesê Gouws het twee plekke met sy hand uitgewys. Hulle het ook stilgehou by die skool waar sy gewerk het. Ná die tyd het 'n 'n stuk papier ontvang met Henning se besonderhede, insluitend die registrasienommer en kleur van haar motor.
Pieterse is gevra of hy Henning voor haar moord ontmoet het.
"Nee, in daardie stadium het ons nie eers geweet dit is 'n vrou wat geskiet moet word nie."
Henning se ouers, Sharon en Ivan Saincic, was in die hof. Haar ma het gehuil toe Pieterse gesê het hy het nooit haar dogter ontmoet nie.
Die 26-jarige Henning is op 8 November 2011 doodgeskiet kort nadat sy haar seun by 'n kleuterskool afgelaai het.
Pieterse en Gerhardus du Plessis beweer Monye het hulle gehuur om Henning te skiet en belowe dat hy elkeen R10 000 sal betaal.
Albei het in Desember verlede jaar 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan en is veroordeel op aanklagte van moord, die besit van 'n ongelisensieerde vuurwapen en die besit van 'n ongelisensieerde vuurwapen. Albei is tronkstraf van 18 jaar opgelê.
Gouws en Monye het onskuldig gepleit op aanklagte van moord, sameswering om moord te pleeg, sameswering om 'n onwettige vuurwapen te koop, die besit van 'n onwettige vuurwapen en ammunisie.
Pieterse is vroeër gevra hoekom hy Henning vermoor het.
"Dit is 'n instruksie wat ons van Ambrose ontvang het," het hy geantwoord.
Hy het gesê hy het Monye by 'n Romans-pizzawinkel in Sunnyside ontmoet en is R600 gegee om 'n vuurwapen te koop.
Pieterse het egter dié geld gebruik om dwelms te koop en het later 'n vuurwapen by Preshan Singh gekoop.
Singh is in Julie tot vyf jaar tronkstraf, opgeskort vir vyf jaar, gevonnis omdat hy die vuurwapen wat in die misdaad gebruik het, verskaf het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA