Goldblatt sê nee oor snoerwet
2011-11-26 09:26
Johannesburg – Die bekroonde fotograaf David Goldblatt het pres. Jacob Zuma laat weet dat hy sy nasionale orde-toekenning, die Orde van Ikhamanga, van die hand wys.
Dít volg op die aanvaarding verlede week in die parlement van die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting.
Die Orde van Ikhamanga Silwer is op 27 April vanjaar aan Goldblatt, een van Suid-Afrika se bekendste dokumentêre fotograwe, toegeken vir sy uitbeelding van Suid-Afrika deur fotografie en sy bydrae tot die land se literêre kultuur.
Hy kon nie die oorhandigingseremonie vanjaar bywoon nie en sou sy toekenning volgende jaar op 27 April ontvang.
Mnr. Harold Maloka, presidensiële woordvoerder, sê die presidensie is bewus van Goldblatt se besluit en respekteer dit.
Volgens Maloka is Goldblatt ook nie die eerste persoon wat in die agtjarige bestaan van die toekenning dit van die hand wys nie.
Maar die name van die ander kan “ongelukkig nie” bekend gemaak word nie.
In sy brief gee Goldblatt (81) twee redes vir sy weiering van die Orde en sy afkeer van die wetsontwerp.
“Die skade wat aan ons demokrasie gedoen is deur die aanvaarding van die wetsontwerp en die skade wat heel moontlik sal voortspruit as u (Zuma) dit in die wetboeke sal inteken... hierdie optrede ondermyn ons dapper maar delikate demokrasie ten ergste,” skryf Goldblatt.
Hy reken Zuma, sy regering en die ANC minag die gees waarin die toekenning geskep is.
Goldblatt gee ook sy misnoeë te kenne met die manier waarop dit deur die parlement “gedruk” is, ondanks baie mense en gerespekteerde burgerlike groepe se afkeer daarin.
“Die teenwoordigheid van só ’n stuk wetgewing in ons wet(boeke) druis in teen die gees waarin die nasionale toekennings tot stand gekom het.
“Om die Orde van Ikhamanga van u op 27 April te ontvang sal wees om u minagting goed te keur.
“Ek weier om dit te doen en met groot hartseer weier ek u eerbetoon.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad