Goeie uitslae moeilik as dit só lyk
2010-11-28 07:36
Port Elizabeth - Talle skole in Suid-Afrika het geen basiese geriewe soos krag, water of
sanitasie nie – maar is nogtans onder druk om goeie akademiese resultate
te lewer.
Die skole is meestal “gratis skole”. Dit is skole wat geen skoolgeld van die leerlinge se ouers invorder nie.
Veral
in die arm Oos-Kaap, wat onlangs deur Rapport se Nuusbus besoek is,
moet kinders in haglike en onveilige omstandighede skoolgaan.
Elroy Bosman, hoof van die Hoërskool Booysenpark in Port Elizabeth, sê
hy sit met sy hande in die hare. Hy probeer al sewe jaar om die
Oos-Kaapse departemente van openbare werke en onderwys te oorreed om die
skoolgeboue op te knap.
“Sedert die skool in 1985 geopen is, is
daar nog nooit enige instandhoudingswerk hier gedoen nie. Al
terugvoering wat ons kry, is dat instandhoudingswerk deur die skool self
behartig moet word.”
Een blok klaskamers is in 2003 deur ’n brand verwoes, maar dié klaskamers is steeds in gebruik.
Op reëndae sit leerlinge hier onder sambrele in die klas.
Daar
is geen elektrisiteit in die klaskamers nie. Die meisiestoilette is
stukkend en dus moet die meisies die seuns se toilette met hulle deel.
“Hier
het ons net skryfborde en kryt, maar wanneer ’n provinsie ’n swak
matriekslaagsyfer het, word die onderwysers blameer,” sê Bosman.
Onderwyskenners
meen hoewel swak infrastruktuur nooit as ’n verskoning vir swak uitslae
gebruik moet word nie, beïnvloed dit tóg leerlinge se akademiese
prestasie.
Jaco Deacon, uitvoerende adjunkhoof van die
beheerliggaam-organisasie Fedsas, sê instandhouding by skole is altyd ’n
prioriteit. Baie skole kan dit egter nie bekostig nie.
“Die skole is van die regering afhanklik, maar swak kommunikasie en lang waglyste is ’n groot probleem.”
Vir
Deacon is die probleem ook onbevoegde amptenare wat hul plig versuim
deur nie skole te besoek en verslae oor die infrastruktuur op te stel
nie.
“Die skoolhoofde en beheerliggaamlede moet dit dus doen. Dit is egter nie húl werk nie.”
Graeme Bloch, ’n opvoedingskenner, sê skole se infrastruktuur is ’n
provinsiale kwessie. Dit bring mee dat daar dikwels nie genoeg druk van
nasionale vlak is om die probleme op te los nie.
“Die nasionale
regering het min sê oor provinsiale begrotings. Hoewel daar op nasionale
vlak vir skole begroot word, kan die begroting tot niet gaan in die
stelsel.
“Daar heers tans groot agterstande, maar daar is darem
hoop omdat skole, bestuur en die departemente meer van die probleme
bewus raak.”
- Rapport