Goeie, slegte op Vryheidsdag beklemtoon
2012-04-27 23:02
Kaapstad – Verskeie politieke partye het Vryheidsdag as geleentheid gebruik om nie net te wys op die vooruitgang wat die afgelope 18 jaar in Suid-Afrika gemaak is nie, maar om ook die aandag te vestig op die vele uitdagings wat die land nog in die gesig staar.
Suid-Afrika het sedert die totstandkoming van 'n demokratiese bestel in die land aansienlike vordering gemaak in terme van toegang tot basiese dienste, het pres. Jacob Zuma Vrydag by 'n Vryheidsdag-byeenkoms in Pretoria gesê.
"Ons lei in hierdie verband die stryd om werkloosheid, ongelykheid en armoede uit te wis deur die bevordering van ekonomiese groei wat almal insluit," het hy gesê.
"Daar is al baie bereik in die uitbreiding van toegang tot basiese dienste sedert 1994 in 'n poging om Suid-Afrika om te keer, maar veel meer moet nog gedoen moet word," het hy gesê.
Helen Zille, leier van die DA, het aan ondersteuners in Atteridgeville, Pretoria, gesê dat Suid-Afrikaners moet onthou hoe belangrik die rol is wat hulle speel in die bepaling van die land se toekoms.
"[Behoorlike demokrasie]... vereis weer dat landsburgers weet hoe magtig hulle is, en dat hulle hul mag ten volle gebruik – verantwoordbaarheid moet afgedwing word, dienslewering moet verseker word [en] hulle moet hulle eie toekoms skryf," het sy gesê.
"Daar moet ook betekenisvolle politieke mededinging wees, deur kiesers wat bereid is om regerings te verander deur die stembus."
Die Inkatha Vryheidsparty-Inkatha (IVP) het op sy beurt beweer dat dié party se rol in die stryd teen apartheid nie genoegsaam erken word nie, en sy leier, Mangosuthu Buthelezi, het geweier om die vieringe by die Uniegebou by te woon.
"Ons vier vandag Vryheidsdag as 'n IVP-viering, want ons weet sonder vrees of teenstrydigheid dat die IVP 'n aansienlike bydrae tot die bevryding van die land gemaak het," het hy in 'n toespraak gesê.
Buthelezi het gesê dat die vieringe by die Uniegebou hoofsaaklik sal fokus op die ANC se rol in die struggle.
Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus, het gesê daar is steeds "rassistiese" neigings in die land, veral in terme van promosies op regeringsvlak en universiteitstoelatings.
"Alle groepe in Suid-Afrika smag na versoening, samewerking en vrede. Ware versoening is 'n wen-wen-situasie tussen al die groepe in die land," het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA