Goeie nuus, matrieks!
2011-12-31 07:48
Pretoria – Die nasionale senior sertifikaat-eksamen “stabiliseer baie goed”, hoewel daar, soos vorige jare, kommer is oor leerders se swak prestasie in ’n vak soos wiskunde.
Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, het gister goedkeuring gegee vir die bekendmaking van die departement van basiese onderwys, die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) en die Eksamenraad vir Christelike Onderwys (Erco) se uitslae.
Umalusi is tevrede dat die eksamens van die departement en die IEB geloofwaardig, betroubaar en regverdig was, maar ernstige bedenkinge is uitgespreek oor die oënskynlike gebrek aan kapasiteit en vermoë van Erco om eksamens in alle opsigte nasionaal te administreer.
Dr. Sizwe Mabizela, voorsitter van Umalusi, het gesê die stelsel stabiliseer mooi met ’n hoë persentasie vakke waarin die departementele eksamen se onverwerkte punte behou is. Die regering en provinsies se ingrypings- en verbeteringstrategieë het volgens hom ’n positiewe impak op die stelsel.
“Dinge het in al die provinsies goed gewerk en ’n groot verbetering in die gehalte van nasienwerk is ook opgemerk.”
Altesaam 620 266 kandidate het die nasionale senior sertifikaat-eksamen geskryf. Altesaam 56 vakke is gestandaardiseer en die punte is in 45 onverwerk behou.
Die punte is minimaal in vakke soos lewenswetenskappe en rekeningkunde opwaarts aangepas en afwaarts in landbouwetenskap, besigheidstudies en geskiedenis.
Wat Erco betref het Umalusi sy bedenkinge uitgespreek oor die opstel van die raad se vraestelle, die moderering van deurlopende assessering (SBA), die hantering van die eksamens, die nasienproses en verwerking van punte.
Umalusi moes voor en gedurende die eksamens verskeie ingrypings doen. Weens probleme met die deurlopende assessering wat 25% van kandidate se finale punt uitmaak, is besluit om dié punte nie in berekening te bring nie en ’n “vergoedingsmeganisme” te gebruik wat vir sulke omstandighede voorsiening maak.
Erco het vanjaar vraestelle in 21 vakke vir standaardisering aan Umalusi voorgelê, terwyl hy 39 van die departement se vraestelle gebruik het. Altesaam 1237 kandidate het die Erco-eksamens afgelê. Van die 21 vakke wat Umalusi gestandaardiseer het, is die onverwerkte punte in 18 aanvaar.
Die onverwerkte punte is in 45 van die 58 vakke behou van die IEB se 8 281 kandidate wat die eksamen geskryf het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger