Godsdiens nou taboe in teater
2011-02-24 07:32
Welkom - Die beoefening van godsdiens in die Ernest Oppenheimer-teater in die stad is voortaan taboe, blyk uit die fynskrif van ’n huurkontrak vir die saal.
Vir minstens een gereelde huurder – die Welkom-Volkskool – is dié verbod ’n netelige saak.
Die skool het reeds ’n prokureursbrief aan die stadsraad gerig om kapsie te maak teen dié “ongrondwetlike” reëling wat sy jaarlikse Kerssangdiens met ’n Christelike karakter in die gedrang bring.
Hannes van Vuuren, hoof van die skool, was baie verbaas toe hy verlede jaar die eerste keer hieroor ingelig is.
“Ons hou jaarliks ons Kerssangdiens met ’n bekende kunstenaar in die teater en dit word met Skriflesing en gebed geopen.
“Verlede jaar is ek twee dae voor Romanz se opvoering deur die teaterbestuurder in kennis gestel dat geen godsdiens in die teater beoefen mag word nie. Vanjaar het ons dit op skrif in ons kontrak gekry.”
Die Welkom-Volkskool is bekend vir sy Christelike waardes en Van Vuuren sê dit is belangrik dat Christene opstaan vir wat hulle glo reg is.
Yolandi Hewetson van die prokureursfirma Hewetson Ingelyf het ’n brief namens die skool aan die munisipaliteit geskryf waarin sy aanvoer dat die teater se optrede “totaal ongrondwetlik is en dat dit onafdwingbaar is”.
Luidens paragraaf 12 van die kontrak wat die skool met die teater aangegaan het, mag ingevolge standaard-teaterregulasies geen godsdiens of politiek in die teater verkondig word nie. “As dit gedoen word, het die verhuurder die reg om alle verrigtinge te stop.”
Hewetson sê sy twyfel of die munisipaliteit dit gaan kondoneer dat diskriminasie teen godsdiensvryheid in sy naam gepleeg word.
In haar brief aan die munisipaliteit sê sy die vertoning van die skool het ’n Christelike karakter. “Die gehoor en die kunstenaar wat gaan optree, gaan Christus se geboorte vier. “Om dié byeenkoms met Skriflesing en gebed te open, waar die kunstenaar Christelike liedere gaan sing, is net logies.”
Die skool het reeds ’n kontrak met ’n baie bekende kunstenaar aangegaan om in November op hul Kerssangdiens op te tree. Hewetson sê dit sal teleurstellend wees as dit gekanselleer moet word omdat godsdiens in die teater verbied word.
Modise Mahlatsane, woordvoerder van Matjhabeng, sal Donderdag kommentaar lewer.
- Volksblad