Godsdiens: AfriForum steun skole
2009-10-18 21:29
Johannesburg - Die burgerregte-inisiatief AfriForum sal die regskoste van skole met 'n Christelike etos betaal as hulle gedwing word om nie godsdiens in skole te beoefen nie.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het Sondag gesê die organisasie is bereid om die volle regskoste van skole te betaal.
Dít volg nadat die Afrikaanse Vrydenkersbeweging (AVB) aangekondig het dat hy 43 skole regoor Suid-Afrika se godsdiensbeleid in die hof sal betwis.
"Dit is onaanvaarbaar vir die organisasie om skole te viktimiseer in 'n poging om die beheerliggaam se reg om oor 'n skool se godsdiensbeleid te besluit, van hulle te ontneem," het Kriel gesê.
Kriel het gesê dit is ironies dat die groep, wat beweer hulle wil nie kinders onder dwang aan skole se godsdiensbeleid blootstel nie, hul anti-godsdiens-siening op skole wil afdwing.
– Sapa