‘God was by tydens ANC se geboorte’
2010-05-21 07:45
Johan Brits, Beeld
Sasolburg. – God was by toe die ANC gebore is.
So het pres. Jacob Zuma Donderdag hier gesê toe hy ’n skare van ongeveer 15 000 mense op ’n nasionale biddag vir voorspoed met WB 2010 toegespreek het.
“Die ANC het gevoel dit sal nie reg wees as daar nie gebid word nie. Ek het nog nooit gehoor dat enige ander land wat voorheen die toernooi aangebied het, aan die vooraand daarvan gebid het nie.
“Die ANC is anders gebore as enige ander politieke party. God was by tydens die ANC se geboorte,” het die staatshoof gesê.
Zuma het Suid-Afrikaners gevra om hulle te gedra in die vier weke van die toernooi terwyl duisende oorsese besoekers in die land gaan wees.
Meer as 120 busse het mense van oor die Vrystaat heen na die Zamdela-stadion aangery.
Zuma het lof gehad vir sy eie land wat dié “unieke” gebaar gereël het, in besonder die Vrystaatse regering.
Geestelike leiers van alle denominasies het om vrede en voorspoed en vir Zuma gebid.
“Hierdie (biddag) is baie uniek aan Suid-Afrika. In die middel van die land, in die Vrystaat – die geboorteplek van die magtige ANC – word daar gebid vir ’n suksesvolle sporttoernooi.”
Hy sê die wêreld het ’n hoë dunk van en vertroue in Suid-Afrika (om die toernooi aan te bied) en die landsburgers moet dit besef.
“Baie mense het gereken Suid-Afrika sal nie in staat wees om die sokkertoernooi aan te bied nie. Ons het almal verras met die suksesvolle Konfederasiebeker-toernooi.
“Vier maande voor die toernooi was alles voltooi – in ’n rekordtyd. Terwyl sommige stadions opgeknap is, is ander nuut gebou.”
Zuma het sy voorgangers – oudpress. Nelson Mandela en Thabo Mbeki – bedank vir hul puik aanvoorwerk wat daartoe gelei het dat Suid-Afrika die toernooi kan aanbied.
’n Feestelike atmosfeer het geheers met die sing van ANC-liedere, asook ’n oorverdowende blasery van vuvuzelas.
Ace Magashule, Vrystaatse premier, het die enkele wit mense wat in die skare was na die verhoog geroep en seker gemaak almal weet die ANC tref nie onderskeid tussen wit en swart nie.
-Beeld
Volg Beeld op Twitter.