'God sal my vergewe' – Sondagverkragter
2012-09-19 22:45
Johannesburg – Johannes Jacobus Steyn is vyf lewenslange vonnisse opgelê en tot ‘n addisionele 170 jaar tronkstraf in die hooggeregshofsitting in Alberton gevonnis.
Steyn is op 33 van die 37 aanklagte teen hom skuldig bevind. Die aanklagte sluit moord, strafbare manslag, verkragting, seksuele aanranding, ontvoering en poging tot ontvoering in.
Regter Sita Kolbe het gesê sy twyfel of die veroordeelde moordenaar en verkragter gerehabiliteer kan word.
“Die gemeenskap moet beskerm word... Daar is geen regverdiging vir jou optrede nie,” het sy gesê.
Kolbe was ontsteld dat sy slagoffers, wat meestal kinders was, nooit weer normale lewens sal hê nie.
“Twee meisies het hul lewens verloor. Diegene wat nie [hul lewens verloor] het nie, het hul behoorlike lewens verloor,” het sy gesê.
Lazanne Farmer se ma het in die hof ineengestort nadat die vonnisse voorgelees is.
“Ek is bly hy het daardie vonnisse gekry, maar dit sal nooit my kind terug bring nie,” het sy in trane gesê.
Farmer het kort nadat Steyn haar in 2010 ontvoer het, uit sy voertuig gespring. Sy het die teerpad getref, kritieke beserings opgedoen en later gesterf.
Steyn het ná die vonnisoplegging gesê hy sal ‘n paar minute met die media deurbring, sonder die teenwoordigheid van die slagoffers se familielede.
Hy is gevra of hy net sekere vroue geteiken het.
“Ek het nie ‘n spesifieke tipe meisie nie,” het hy geantwoord.
Steyn is ook gevra hoekom hy besluit het om Louise de Waal se lyk aan te brand te steek nadat hy haar ontvoer het.
“Ek kan nie sê dit was impulsief nie... Ek het besluit om haar aan die brand te steek toe ek nie kon besluit wat om met haar lyk te doen nie,” het hy gesê.
Toe verdere kommentaar versoek is, het hy gesê: “Koop die boek. Dit sal alles in die boek wees.”
Joernaliste het ook gevra of hy enige berou het.
“Niemand was daar toe ek aande in my sel deurgebring het nie... Ek het gehuil en God gesmeek om my te vergewe... Ek weet God sal my vergewe,” het hy gesê terwyl hy ineengestort en begin huil het.
Hy het ‘n bruin, Afrikaanse Bybel by hom gehad.
Die sogenaamde Sondagverkragter is daarna gevra hoekom hy besluit het om De Waal dood te maak, aangesien hy nooit enige van sy ander slagoffers vermoor het nie.
“Ek’s nie seker hoekom ek haar doodgemaak het nie... Dis ‘n lang storie...”
Daarna het polisiebeamptes hom weggeneem.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA