G'n woord gerep oor Simelane
2012-10-10 17:59
Johannesburg – Geen woord is Woensdag gerep oor die status van Menzi Simelane, nasionale direkteur van openbare vervolgings, wie se aanstelling onwettig verklaar is nie.
Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het gesê hy gaan nie kommentaar lewer nie en dat die presidensie in 'n beter posisie is om kommentaar te lewer.
"Advokaat Nomgcobo Jiba is tans die waarnemende nasionale direkteur van openbare vervolgings," het Vuyisile Calaza, woordvoerder van die NVG, gesê.
Die grondwethof het Vrydag Simelane se aanstelling as nasionale direkteur van openbare vervolging as ongeldig verklaar.
Die hof het op 8 Mei 'n aansoek deur die DA aangehoor om die appèlhof se beslissing dat Simelane se aanstelling ongrondwetlik was, te bevestig.
Die minister van justisie wou teen die beslissing van die appèlhof appelleer.
Beide die presidensie het die ministerie van justisie het gesê hulle gaan die uitspraak bestudeer.
"Die president het nog nie 'n besluit gemaak nie," het Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, Woensdag gesê.
Eyewitness News het berig 'n aanklaer vir die Johannesburgse Balieraad is besig om 'n klagstaat van aantygings saam te stel, waarop Simelane moet beantwoord. Die raad wou nie in die stadium kommentaar lewer oor die berig nie.
Simelane kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA