'G'n verband op Zuma se Nkandla'
2012-11-18 15:02
Johannesburg – Daar is geen verband op president Jacob Zuma se Nkandla-landgoed in KwaZulu-Natal geregistreer nie, het City Press Sondag berig.
Dié Sondagkoerant het berig dat die grond waarop Zuma se landgoed gebou is deur die Ingonyama-trust besit word.
Die trust staan onder leiding van koning Goodwill Zwelithini en bedryf sowat 32% van alle grond in KwaZulu-Natal namens die staat.
Zuma het Donderdag in die parlement gesê: “Ek het die besluit geneem om by my huis aan te bou en het nog rondawels laat bou. Ek het ook my huis omhein. Ek het na die bank gegaan en nou betaal daardie verband af.”
Volgens City Press kon hulle geen openbare rekords kry om Zuma se bewering, dat daar 'n verband op sy Nkandla-landgoed is, te staaf nie.
Die aktedokument vir die eiendom wys dat die Ingonyama-trust die eienaar is. Belinda Benson, die eiendomsbestuurder van Ingonyama-trust, het aan City Press bevestig dat die rekords van die aktekantoor, wat deur die koerant verkry is, vir Zuma se Nkandla-landgoed was.
Benson sê sy is nie bewus van 'n verband op die eiendom nie.
“Of dit reeds geregistreer is of steeds in die proses is en of die president 'n verband op 'n ander eiendom gekry het, weet ons nie.”
Volgens Benson moet die trust betrokke raak wanneer 'n verband op eiendom wat deur die trust besit word geregistreer word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA