G’n groot skuif met Cope nie – Lindiwe
2011-11-06 12:09
Suné Kitshoff en Llewellyn Prince
Johannesburg – ’n DA-Cope-samesmelting sal goed wees vir opposisiepolitiek omdat dit onsinnig is dat opposisiepartye om so ’n klein aandeel van die nasionale stem onder mekaar baklei.
So het Lindiwe Mazibuko, die DA se parlementêre leier, Saterdag aan Rapport gesê.
Mazibuko, wat aan die Oos-Rand stemme gewerf het vir ’n tussenverkiesing, het gesê Cope-lede sal self moet besluit of hulle ook soos die OD deel van die DA wil word.
“Daar is egter nog geen groot skuif of niks groots tussen Cope en die DA vir die onmiddellike toekoms nie.
“Ons werk reeds saam in koalisieregerings in die Noord-Kaap en het lang verbintenisse met Cope en ander opposisiepartye. Ons sal voortgaan met gesprekke met Cope om hegter opposisie vir die huidige regering te bied,” het sy gesê.
Sprake van ’n samesmelting het Vrydag weer opgevlam toe Mosiuoa Lekota, Cope-leier, ’n paar vooraanstaande Cope-lede na Johannesburg ontbied het. Dit was kort nadat hy die oggend met Helen Zille, die DA-leier, en Mazibuko vergader het.
’n Dag vantevore het bykans die hele Cope-koukus in die parlement aan die media gesê hulle gaan nié met die DA saamsmelt nie.
Die Johannesburgse vergadering was om Cope se geldsake te bespreek, terwyl die een met Zille en Mazibuko ’n voortsetting van gesprekke tussen die partyleiers was, is aan Rapport gesê.
’n Memorandum waarin Lekota die sentrale koördineringskomitee se planne vir beter samewerking met opposisiepartye uitstippel, het in die media gelek.
Cope-lede, nie net in die parlement nie, het blykbaar “huilerig” geraak toe dit uit die memorandum blyk ’n samesmelting is aan die kom, het ’n ingeligte bron gesê.
’n Koukuslid na aan Lekota het gesê “net samewerking word beplan, want daar is steeds nie mense wat vir die DA sal stem nie omdat hulle nog te veel vereenselwig word met die verdrukkers onder apartheid”.
Intussen kan Masizole Mnqasela, die DA-LP wat Mazibuko in die aanloop tot die verkiesing in die openbaar beledig het, benewens interne tugstappe van die DA teen hom, ook streng optrede van Mazibuko self verwag.
“Ek wil as koukusleier privaat met hom in gesprek tree omdat ek, net soos baie ander DA-LP’s, erg bekommerd is oor sy persoonlike en openbare aanval op my,” het sy gesê.
Mnqasela het gesê as iemand om verskoning moet vra vir beledigings, is dit Zille. Hy het aan Rapport gesê Zille mag hom met Julius Malema, die ANC-jeugleier, vergelyk, maar “met Hendrik Verwoerd is onaanvaarbaar”.
“Daar is strukture binne en buite die DA waarheen ek my kan wend as sy (Zille) my nie om verskoning vra nie,” het Mnqasela gesê.
Dit kom nadat Zille Donderdagaand in ’n twietgesprek gesê het pres. Jacob Zuma het Malema en sy (Zille) vir Mnqasela.
Zille het Vrydag aan Rapport gesê twee klagtes oor Mnqasela is by die DA se federale raad ingedien.
- Rapport