Gewelddadige ANCYL-betoging 'onnodig'
2011-09-05 22:42
Johannesburg – ‘n Gewelddadige betoging buite die ANC se Luthuli-huis in Johannesburg verlede week was “onnodig”, het die regerende party se nasionale werkskomitee (NWK) Maandag gesê.
By die komitee se gewone vergadering oor kwessies van die organisasie is gesê die betoging was “uitgewerk” om die ANC se interne prosesse om dissipline onder lede te handhaaf, te ondermyn, het Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, gesê.
“By die vergadering is ooreengestem dat die betoging gebruik is ten doel van swak dissipline. Dit druis in teen goeie en fatsoenlike gedrag binne die organisasie,” het hy gesê.
Betogers het verlede week in Johannesburg se middestad saamgetrek voor die verskyning van Julius Malema, president van die ANC-Jeugliga, en vyf ander lede van dié liggaam voor die ANC se dissiplinêre komitee.
Die jeugdige betogers het gebreekte bakstene na polisiebeamptes en joernaliste geslinger, ‘n T-hemp met die gesig van Jacob Zuma op verbrand en ook ‘n ANC-vlag verbrand.
Die NWK het die betogings veroordeel en gesê die organiseerders het “die organisasie in ‘n swak lig gestel”.
“In die vergadering is ooreengestem dat sulke gedrag nie binne die organisasie geduld moet word nie en onvoorwaardelik veroordeel moet word,” het Mantashe gesê.
Die NWK het ook die verbranding van die beeld van Zuma en die ANC se vlag veroordeel.
“Dit is beskou as geheel en al teen die ANC en in stryding met alles waarvoor die ANC staan,” het Mantashe gesê.
“Die NWK meen verdere optrede moet geneem word teen dié wat deelgeneem het aan die gewelddadigheid en kriminele optrede.”
Vroeër Maandag het die DA gesê ‘n klag van aanhitsing tot geweld is teen die sekretaris van die ANCYL in Limpopo, Jacob Lebogo, gelê. Hy is geïdentifiseer as ‘n voorbok in die betoging.
“Skade aan openbare eiendom sal na skatting miljoene beloop en die verbysterende slag wat die ekonomie van die middestad toegedien is weens die ontwrigting van handel, moet uitgedaag word,” het John Moodey, woordvoerder van die DA in Gauteng, gesê.
Malema en Floyd Shivamby, ANCYL-woordvoerder, tel onder dié wat dissiplinêr verhoor word in verband met kommentaar wat gelewer is oor ‘n bewindsverandering wat in Botswana gefasiliteer moet word.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA