Geweld ruk Pollsmoor-gevangenis
2013-01-25 10:45
Kaapstad – Altesaam 20 gevangenes is beseer, twee van hulle kritiek, in gevegte by die Pollsmoor-tronk in Kaapstad, berig die SABC.
Dít volg ná berigte van geweld by minstens drie tronke in die land.
Die voorval by Pollsmoor volg nadat geweld twee weke gelede by die Groenpunt-tronk in die Vrystaat en die afgelope naweek by die St. Albans-gevangenis in Port Elizabeth aangemeld is. Altesaam drie gevangenes het in die voorvalle in die Vrystaat en Port Elizabeth gesterf.
"Dit is dieselfde bende; hulle het glo voorheen saamgewerk, maar nou is daar rasse-spanning wat tot die gevegte gelei het," het Delekile Klaas, streekkommissaris van die departement van korrektiewe dienste in die Wes-Kaap, gesê.
"Ons het soektogte gedoen en selfone, tik, pangas en selfgemaakte wapens, wat in die geveg gebruik was, gevind."
Klaas het gesê die gevangenes het ook die glas van 'n venster gebruik om mekaar te steek.
– Volg Nuus24 op Twitter