Gewapende rowers kap casino
2010-09-13 08:20
Bloemfontein - Kortstondige chaos het Saterdagaand geheers toe ses gewapende rowers op die Windmill-casino in die suide van Bloemfontein toegeslaan het.
Die groep, een met ’n aanvalsgeweer en die res met handwapens, het doodluiters by die uitgang ingestap, die sekuriteitsbestuurder gedwing om die kontantkamer oop te sluit en met ’n onbekende bedrag geld gevlug. Hoewel ’n sterk polisieteenwoordigheid gehandhaaf is nadat alarm gemaak is, het mense steeds vrylik in en uit die gebou beweeg en baie het aangehou dobbel.
Die casino-bestuur het deurentyd mense gemaan om kalm te bly en spesiale reëlings is getref om kinders wat in ’n speelkamer besig gehou is, te ondersteun. Die polisie het aanvanklik vermoed een van die rowers kruip in die dak van die gebou weg en gewapende polisielede het die gebou omsingel.
Volgens sers. Mmako Mophiring, woordvoerder van die polisie se elite-eenheid teen georganiseerde misdaad, die Valke, was die ses mans gewapen met handwapens en ’n R5-geweer. Hulle het glo by die uitgang van die casino-gebou ingestap en die sekuriteitsbestuurder van die casino gedwing om die kontantkamer oop te sluit. Die rowers het met ’n onbekende bedrag geld in ’n silwer Nissan Navara-bakkie met ’n GP-registrasienommer gevlug.
Niemand is in die rooftog beseer nie, maar ’n besoeker wat die rowers gewaar het, het hiperventileer en is na die Life-Rosepark-hospitaal gebring waar sy behandel is.
Die rooftog het gekom kort nadat gewapende mans in ’n gewaagde roofrog ’n kitsbank opgeblaas het by ’n vulstasie in Pellissier, skaars ’n kilometer van die casino af.
Yasheen Sookdeo, hoofbestuurder van die casino, sê al die sekuriteitskameras in en om die casino het gewerk en beeldmateriaal sal aan die ondersoekspan van die polisie gegee word. Sy sê trauma-berading is gereël vir personeel en kliënte wat dit mag nodig kry.
“Sake gaan soos normaal voort en mense kan gerus en veilig voel wanneer hulle ons besoek.”
Mophiring het die gemeenskap versoek om met hul naaste polisiekantoor in aanraking te kom indien hulle met die ondersoek kan help.
- Volksblad