Gewapende rower doodgeskiet
2010-08-20 15:37
Johannesburg – ‘n Man wat by ‘n gewapende rooftog by ‘n huis in Randfontein betrokke was is Vrydag in ‘n skietery met die polisie dood, het polisie in Gauteng gesê.
Drie gewapende mans het rondom 03:00 Vrydagoggend by ‘n huis op ‘n plot in Randfontein ingebreek, die familie wat binne geslaap het vasgebind en gevlug met hul televisie, DVD-speler, rekenaar en ‘n voertuig, het ao. Solomon Sibiya gesê.
Die saak is by die polisie aangegee en hulle het later die voertuig in Main Reefstraat gewaar.
Die polisie het die mans gejaag. Hulle het by ‘n doodloopstraat ingejaag en op die polisie begin skiet.
Die polisie het teruggeskiet en die voertuig het in ‘n veld langs die pad ingejaag.
Een van die drie rowers is geskiet en is op die toneel dood.
Die ander twee het weggekom.
Ná verdere ondersoeke het die polisie gevind dat die twee wat weggekom het Mosambiekse burgers was.
Hul bure was glo verras om uit te vind dat hulle in kriminele aktiwiteite betrokke was.
Ondersoeke is nog aan die gang.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA