Gewapende bende blaas OTM in JHB op
2012-08-24 07:05
Johannesburg – 'n Gewapende bende het vroeg Vrydagoggend 'n OTM in Bram Fischerville, Soweto, opgeblaas, het die polisie in Gauteng gesê.
"Dit was omstreeks 02:00 vanoggend. 'n Groep mense wat in 'n minibus en 'n Golf gery het, het na 'n Spar in Bram Fischerville gegaan en twee bomme in 'n OTM van FNB geplant," het ao. Kay Makhubela, woordvoerder, gesê.
"Die OTM is opgeblaas, maar geen geld is gesteel nie."
Die polisie is deur inwoners van die voorval in kennis gestel.
"Daar was 'n skietery tussen die polisie en die verdagtes. Ons het meer as 20 AK47-patrone, wat die verdagtes gebruik het, gevind," het Makhubela gesê.
Drie van die verdagtes was gewapen met AK47's en 'n ander een met 'n handgeweer.
Dit is nie bekend hoeveel mans deel van die bende was nie.
Makhubela het 'n beroep op die gemeenskap gedoen om na vore te kom met inligting oor die voorval. Sy het ook gesê die mans is swaar gewapen en gevaarlik.
Niemand is in hegtenis geneem nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA