Gevangenes wil tronk afbrand
2009-08-22 10:42
Johannesburg – Gevangenes by die Johannesburg-tronk het gedreig om dié gebou af te brand ná nog ‘n sloerstaking deur tronkbewaarders op Saterdag.
Dié bewering is gemaak deur ‘n organisasie wat hom beywer vir die regte van gevangenes.
"Die Johannesburg-tronk is ‘n tydbom. Gevangenes het gedreig hulle gaan die gebou afbrand," het Golden Miles Bhudu van die SA Gevangene-organisasie vir menseregte (Sapohr) gesê.
Volgens Bhudu het gevangenes nie Saterdagoggend ontbyt ontvang nie, en hulle is glo ook deur tronkbewaarders meegedeel dat hulle nie besoeke van familielede kon ontvang nie.
"Hulle het nodig om hul geliefdes te sien, en hulle geliefdes wil vir hulle sien. Hulle sien uit na die naweke want hulle word besoek deur familielede... dit gaan hulle baie ontstel."
Bhudu het gesê die tronkbewaarders het aan ‘n sloerstaking deelgeneem ter ondersteuning van die 88 bewaarders wat Vrydag afgedank is.
"Die departement van korrektiewe dienste wil die indruk skep dat alles terug is na normaal. Maar dit is nie," het Bhudu gesê.
Volgens Manelisi Wolela, woordvoerder vir die departement van korrektiewe dienste, was hy nie bewus van ‘n sloerstaking nie.
- SAPA