Gevangenes verskuif ná tronk-moles
2013-01-10 18:04
Johannesburg – Ongeveer 510 gevangenes van die Groenpunt-tronk in die Vrystaat word na ander korrektiewe sentrums verskuif, het 'n beampte Donderdag gesê.
Sowat 350 van dié gevangenes is reeds verskuif, en meer sal Vrydag na ander tronke geneem word, het Grace Molatedi, adjunkkommissaris van korrektiewe dienste in die Vrystaat, gesê.
Al die gevangenes wat verskuif is, dien maksimum-vonnisse uit.
"Hulle word geakkommodeer in die Noordwes, Mpumalanga, Limpopo, Gauteng en KwaZulu-Natal," het sy gesê.
Dié stap volg ná die gevangenes Maandag oproerig geraak het. Hulle het selle en die tronk se kantore aan die brand gesteek. Vier tronkbewaarders en 50 gevangenes is tydens die voorval beseer.
Die SABC het berig dat sommige van die gevangenes selfone gehad het, en dat hulle 'n plaaslike radiostasie gebel het om te kla oor die gehalte van kos, en oor sommige van die oppassers. Hulle het ook op die afdanking van 'n eenheidshoof aangedring.
Party van die gevangenes se dokumente is in die brande beskadig, wat tot administratiewe vertragings kan lei.
Molatedi het gesê die tronke wat gevangenes van Groenpunt oorneem, sal nie nadelig geraak word nie.
"Ons het met die ander tronke gekommunikeer om seker te maak dat daar nie enige oorbevolking is nie."
Die gevangenes sal na Groenpunt teruggeneem word sodra die beskadigde selle herstel is.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA