Gevangenes ontsnap, sluit beamptes in selle toe
2011-04-23 11:40
Nelspruit – Dertien verhoorafwagtende gevangenes het uit aanhoudingselle by die Botlokwa-polisiekantoor ontsnap, het die polisie in Limpopo Saterdag gesê.
"Twee beamptes het omstreeks 19:40 by die gevangenes gaan inloer toe hulle aangeval is," het lt.kol. Mohale Ramatseba in 'n verklaring gesê.
"Die gevangenes het die polisiebeamptes oorrompel en erg aangerand. Die polisiebeamptes is toe van die sleutels beroof en in een van die selle toegesluit."
Ramatseba het gesê die beseerde beamptes is deur ander polisiebeamptes gered en na 'n plaaslike gesondheidsorgsentrum geneem waar hulle opgeneem is.
"'n Intensiewe soektog na die ontsnaptes is van stapel gestuur en twee van die 13 ontsnaptes is in die Botlokwa-gebied in hegtenis geneem."
Die gevangenes wat in hegtenis geneem is, is Owen Phiri (20) wat verhoorafwagtend is vir moord en Jacky Chepape (29) wat verhoorafwagtend is vir rooftog.
Die gevangenes is nog op vrye voet is, is: William Letsoele (verkragting), William Molokomme (verontagsaming van 'n beskermingsbevel), Wilson Mogale (huisbraak), Thabo Letsoalo (huisbraak).
Die res wat almal verhoorafwagtend is vir verkragting is: Simon Tlabela (32), Amos Malatji (26), Macbeth Moswati (29), Jimmy Phalantwa (22), Sello Maake (26), Matome Makofane (19) en Thabang Matloga (18).
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA