Gevangenes gaan op hongerstaking
2009-08-12 18:32
Johannesburg – Nege gevangenes het op ‘n hongerstaking by die Mangaung Korrektiewe Sentrum naby Bloemfontein gegaan, het die departement van korrektiewe dienste Woensdag gesê.
Die departement se woordvoerder, Sonwabo Mbananga, het gesê dat minister Nosiviwe Mapisa-Nqakula en haar kollega die tronk Donderdagoggend sal besoek in ‘n poging om die situasie te probeer oplos.
“Die ministers wil eerstehandse kennis inwin oor die redes vir hierdie staking onder die oortreders,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat dit die tweede hongerstaking in hierdie fasiliteit in die laaste drie weke is.
Die jongste voorval het meer as ‘n week gelede begin en is aan Mangaung Korrektiewe Sentrum se hoofkantoor aangemeld nadat areabestuurders dit nie kon oplos nie.
Alhoewel die departement weet wat die redes vir die hongerstaking is, het Mbananga gesê dat hulle nie in té veel besonderhede wil ingaan voordat die ministers met die gevangenes en amptenare gepraat het nie.
Hy het gesê dat die minister ondersoek sal instel om te bepaal of hierdie hongerstaking verband hou met die vorige een.
Mbananga het gesê dat Mangaung-tronk een van slegs twee openbaar-privaat vennootskappe in tronke in die land is.
Dit beteken dat, alhoewel die bewaarders amptenare van die departement is, die tronk deur ‘n privaatmaatskappy bestuur word.
- Sapa