Gevangene in tronk vermoor
2011-04-23 17:54
Johannesburg - ‘n Gevangene by die Potchefstroom-tronk is na bewering deur mede-gevangenes vermoor, het die polisie in Noordwes Saterdag gesê.
Volgens lt. kol. Lesego Metsi word tien gevangenes aangekla van moord nadat Reginald Sethibe (19) tydens ‘n struweling in die selle vermoor is.
Sethibe, wat gesteek is, is na ‘n hospitaal geneem, maar is met aankoms dood verklaar.
Volgens Metsi het daar ‘n struweling tussen twee bendes ontstaan.
Drie ander verhoorafwagtende gevangenes is beseer. Hulle het mediese hulp ontvang en is na hul selle teruggestuur.
Die polisie het beslag gelê op tuisgemaakte messe, wat in die geveg gebruik is.
Die vermeende moordenaars sal na verwagting Dinsdag in die Potchefstroom-landdroshof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA