Gevangene beswyk aan brandwonde
2011-10-29 20:29
Johannesburg – Een van die drie verhoorafwagtendes wat hul tronksel in ‘n gevangenis in Krugersdorp aan die brand gesteek het, het aan sy beserings beswyk, het korrektiewe dienste gesê.
Volgens Sibongile Khumalo, ‘n woordvoerder, het Avhumile Nonkwelo (25) Saterdag in die Kalafong-hospitaal gesterf.
Khumalo sê Nonkwelo se familie is in kennis gestel.
Die ander twee gevangenes, Letsholo Moreki (20) en Shadrack Takalo (18), is uit die hospitaal ontslaan.
Volgens Khumalo het die gevangenes Vrydag hul tronksel met ‘n staal bed versper en die sel aan die brand gesteek.
Die woordvoerder sê die rede vir hul aksies is onbekend.
Khumalo sê die departement van korrektiewe dienste is hartseer oor die gevangene se dood.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA