Gevaarlike misdadigers ontsnap in Noordwes
2011-11-08 13:20
Johannesburg – Vyf “baie gevaarlike” gevangenes het uit die Ottoshoop-polisiestasie naby Zeerust ontsnap, het die polisie in die Noordwes Dinsdag gesê.
Die vyf het glo ‘n mes gebruik om Sondag om 16:30 deur die dak van die gevangenes se oefenkamer te sny, het brig. Thulani Ngubane in ‘n verklaring gesê.
“Die verdagtes is tussen die ouderdomme van 25 en 30 jaar oud en is in hegtenis geneem vir misdade van roof met verswarende omstandighede, brandstigting, aanranding en huisbraak.
“Die polisie waarsku gemeenskapslede om nie te probeer om hierdie vyf mans aan te keer nie, aangesien hulle baie gevaarlik is. Hulle moet eerder by die naaste polisiestasie aangemeld word indien iemand hulle sien.”
Ngubane het gesê die polisie sal “nie huiwer om stappe te neem” as nalatigheid deur die polisie bygedra het tot hul ontsnapping nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA