Gevaarligte flikker vir skole, waarsku FW
2010-08-31 07:09
Johannesburg - Onderwys in Suid-Afrika is nie op koers nie en die prestasie op dié terrein is waarskynlik die grootste enkele mislukking van die nuwe Suid-Afrika.
Só het oudpres. F.W. de Klerk gister by die hoofdesimposium van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) in Port Elizabeth gesê.
De Klerk is versoek om te praat oor die onderwerp: “Onderwys in Suid-Afrika: Is ons steeds op koers?”
Hy het gesê onderwys is nie op nasionale vlak op koers nie en ook nie wat betref die bydrae wat dit kan en moet maak om die waardes en die visie van die Grondwet te verwesenlik nie.
“Daarbenewens is Afrikaanse onderwys ook nie op koers nie.
De Klerk het gesê daar is verkeerde besluite op feitlik elke moontlike terrein van die onderwys geneem. (Sien kassie hiernaas.)
Hy het gesê die gevolge van dié besluite is rampspoedig en hou ernstige implikasies vir werkskepping en ekonomiese stabiliteit in. “Dit dra ook by tot verdere armoede, ongelykheid en misdaad.”
Hy het gesê van die 1,67 miljoen leerders wat in 1995 met skool begin het, het slegs 565 000 (34%) in 2007 matriek geskryf. Van hulle het 368 000 (22%) geslaag en slegs 85 000 (5%) het universiteitsvrystelling gekry. Net 25 400 kon wiskunde in die hoër graad slaag en slegs 15% van die 278 000 swart matrikulante kon funksioneel lees en skryf.
“Die probleem is nie ’n tekort aan geld nie. Die onderwysbegroting bedra R165 miljard – meer as R12 000 vir elke kind en student in die stelsel.
“Die probleem is verkeerde besluite wat deurgaans geneem is, terwyl toegelaat is dat kernbestuurstelsels in duie stort.”
De Klerk het gesê dit gaan beter met Afrikaanse onderwys, maar daar flikker ernstige waarskuwingsligte.
“Die aantal Afrikaanse skole het die afgelope 15 jaar met sowat 30% gedaal en oral, veral op die platteland, is dié skole besig om leeg te loop.
“Talle Afrikaanse skole ondervind toenemend druk van provinsiale departemente om hul deure vir kinders van ander gemeenskappe en taalgroepe oop te gooi.”
Hy het gesê die bestuur van voormalige Afrikaanse universiteite is aan die een kant vasgevang tussen studente, oudstudente en ouers wat toenemend hul stem dik maak oor Afrikaans, en aan die ander kant ’n groeiende aantal dekane en akademiese personeellede wat geen roeping het om Afrikaans te bevorder nie en net akademiese uitnemendheid nastreef.
Dan is daar ook druk van die regering om meer demografies verteenwoordigend te word deur meer swart Engelssprekende studente te werf.
“As ons ernstig is oor die voortbestaan van Afrikaans, sal ons die druk moet weerstaan, aandring op ons grondwetlike reg op onderwys in die taal van ons keuse en aksieplanne moet beraam om ons doelwitte te bereik.”
- Die Burger