Getuie in ET-verhoor 'pateties'
2012-02-02 12:55
Ventersdorp – ‘n Vroulike polisiekonstabel se vaardigheid om te lees en om die twee verdagtes wat van die moord op Eugene Terre’Blanche beskuldig word se regte aan hulle te verduidelik, is Donderdag in die hof bevraagteken.
Konst. Kedibone Sophie Mokwele is in die hooggeregshof in Ventersdorp deur ‘n prokureur gevra om ‘n frase in Engels te lees en dit in Setswana te verduidelik.
Sy kon dit nie doen nie, waarna prokureur Kgomotso Tlouane aan haar gesê het: “Mevrou, jy is pateties.”
Tlouane is die regsverteenwoordiger van Chris Mahlangu, wat saam met ‘n minderjarige daarvan beskuldig word dat hulle Terre’Blanche op 3 April 2010 in sy huis in Ventersdorp vermoor het.
Albei het onskuldig gepleit op aanklag van moord. Mahlangu beweer dat hy uit selfverdediging opgetree het. Die tiener het betrokkenheid by die misdaad ontken.
Tydens ‘n verhoor binne ‘n verhoor het die konstabel gesê sy het die beskuldigdes se regte aan hulle voorgelees ná hul inhegtenisname. Sy het dit glo eers in Engels gedoen, waarna sy die inhoud in Setswana verduidelik het.
“Hoe kan jy iemand se regte aan hulle verduidelik as jy dit self nie verstaan nie?” het Tlouane aan haar gevra.
Hy het aangevoer dat sy nog nie die dokument vantevore gesien het nie.
Nietemin het Mokwele vroeër volgehou dat sy Mahlangu en die tiener se regte aan hulle voorgelees het.
“Ek het (Mahlangu) gevra of hy verstaan. Hy het aangedui dat hy verstaan en toe het hy dit geteken,” het sy gesê.
Zola Majavu, die tiener se regsverteenwoordiger, het Mokwele ná Tlouane ondervra en het haar vaardigheid in Engels bevraagteken,
Mokwele het erken dat sy sal sukkel om voort te gaan met haar gesprek met Majavu sonder die hof se tolk.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA