Getuie geweier in Selebi-verhoor
2009-11-23 17:47
Johannesburg - Die minister van intelligensie, dr. Siyabonga Cwele het Maandag ’n aansoek by die hof ingedien waarin hy versoek het dat ’n voormalige intelligensie-amptenaar nie in Jackie Selebi se korrupsiesaak moet getuig nie.
Muramo Moerane, Cwele se prokureur het Maandag in die hooggeregshof in Johannesburg aangevoer dat Barry Gilder gevra gaan word om “vertroulike inligting” te onthul.
Gilder was ‘n lid van die departement van intelligensie tot in Oktober 2007.
Die aansoek wat sy verskyning teenstaan, is deur Cwele én die departement se direkteur-generaal ingedien, het Moerane aan die hof vertel.
Gilder sal na verwagting oor ‘n 2005 intelligensieverslag wat inligting oor beweerde foutiewe betalings vanaf die vermoorde mynmagnaat, Brett Kebble na Selebi behels.
Moerane het gesê Gilder moet nie getuig nie, omdat niemand kan voorspel wat daar gevra gaan word nie. “Dit is ‘n probleem.”
Adv. Gerrie Nel, die staatsaanklaer het gesê die inhoud van die verslag wat verwys na Selebi, is reeds publieke eiendom.
Adv. Nel het gesê Gilder sal die staat se laaste getuie wees.
-Sapa