Gestremde man skiet broer
2009-10-28 09:45
Johannesburg – ‘n 18-jarige man van Bityi buite Mthatha is in hegtenis geneem nadat hy glo sy broer doodgeskiet het toe hy hom as ‘n rower misgis het, het polisie in die Oos-Kaap Woensdag gesê.
Die man, wat in ‘n rolstoel is, het glo sy 29-jarige broer om 22:00 Dinsdagaand geskiet, het supt. Mzukisi Fatyela gesê.
“Hy het aan die polisie gesê dat hy gedink het ‘n rower het by sy kamer ingekom en dat hy eers besef het dat dit sy broer is nadat hy die sneller getrek het,” het Fatyela gesê.
Die polisie het ook gevind dat die 9mm pistool wat die man gebruik het ongelisensieerd was en dat die reeksnommer afgekrap is.
Die man sal Donderdag in die Bityi periodieke hof verskyn op aanklagtes van moord en die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.
- Sapa