Gestorwe ysterman-atlete was 'gesond'
2013-01-21 11:40
Kaapstad – Die organiseerders van die Ysterman 70.3-driekampkampioenskap, wat die afgelope naweek in Oos-Londen gehou is, het gesê twee atlete wat tydens die byeenkoms gesterf het, was gesond genoeg om deel te neem, berig Eyewitness News.
Die twee mans, 29 en 37 jaar oud, het vermoedelik hartaanvalle gehad terwyl hulle by die Orient-strand geswem het.
Mediese spanne het probeer om die mans op die toneel by te bring voor hulle na die St. Dominic’s-hospitaal geneem is.
'n Oomblik van stilte vir die atlete is ná die uitmergelende driekamp gehou.
Keith Bowler, besturende direkteur van die kampioenskap, het gesê die sterftes was 'n reuse-skok vir hom en het 'n demper geplaas op die geleentheid.
"Ek sou kon verstaan as dit gebeur het met atlete wat nie fiks genoeg was of genoeg geoefen het nie."
Hoewel Bowler gesê het die atlete se harte het gaan staan, wou die polisie in die Oos-Kaap dit nie bevestig nie.
"Ons kan niks bevestig nie. Die enigste manier om die oorsaak van die sterftes vas te stel, is wanneer die nadoodse ondersoeke afgehandel is."
Nadoodse ondersoeke op die atlete sal Maandag gedoen word.
– Volg Nuus24 op Twitter