Gesteelde weermag-ammunisie op plaas gevind
2010-10-06 09:13
Nelspruit - ’n Groot hoeveelheid ammunisie wat na bewering by die Hoedspruit-lugmagbasis gesteel is, is op ’n plaas naby Carolina in Mpumalanga gevind.
Die sowat 17000 patrone, waarvan meer as die helfte vir R4-gewere is, is in die huurhuis van ’n voormalige vlieginstrukteur van die lugmag gekry.
Die verdagte, wie se naam aan Die Burger bekend is, is tans in Nigerië, waar hy blykbaar as huursoldaat werk.
Die polisie het Maandagnag ’n klopjag op die plaas Jaglus sowat 10 km buite Carolina uitgevoer nadat hulle inligting oor die ammunisie gekry het. Daar is ook beslag gelê op drie vuurwapens waarvoor die verdagte lisensies het. Dié wapens is ’n 9mm-pistool, ’n .303- en ’n .22-geweer.
Die inligting oor die opslagplek is blykbaar aan die polisie verskaf nadat hulle verlede week op oud-kmdt. Willem Ratte en nege ander mans toegeslaan het.
Die Burger het intussen vasgestel planne word gemaak om die verdagte reeds teen die naweek van Nigerië na Suid-Afrika terug te bring.
- Die Burger