Gesondheidsplan kan minister oppermag gee
2011-08-14 10:01
Johannesburg - Kenners het gewaarsku die regering se voorgenome nasionale gesondheidsversekering (NGV) kan gesondheidsorg sentraliseer en die minister van gesondheid se magte uitbrei, ondanks die Grondwet se uitdruklike bepaling oor die rol van provinsies.
Belanghebbendes kan die volgende drie maande skriftelik kommentaar lewer oor die konsepdokument. Daarna word ’n witskrif as beleidsbasis saamgestel en sal wetgewing volgende jaar in die parlement geskryf word, met openbare bydraes.
Prof. Alex van den Heever, gesondheidsekonoom aan die Universiteit van die Witwatersrand, meen mens moet die NGV in drie dele aanpak om die verwagte impak te begryp.
“Eerstens behels die NGV-besprekingsdokument die hervorming van die openbare gesondheidsektor wat in 17 jaar nog nie moontlik was nie,” sê hy.
Hervorming behels beter gehalte gesondheidsorg, ontwikkeling van infrastruktuur en meer en beter bestuurde mensehulpbronne.
“Tweedens skep die voorstel ’n sentrale fonds, wat beteken pleks om gesondheidstrukture nader aan die verbruiker te kry word stelsels (en die geld) op sentrale vlak saamgevoeg.
“Wat dit beteken, is ons minister van gesondheid sal seggenskap hê oor hoe gesondheidsorg geadministreer word, pleks van hom slegs met beleid te bemoei. Gesondheid op provinsiale vlak is ingevolge die Grondwet ’n samelopende regeringsfunksie wat nie ondergestel is nie, maar parallel geskied. Gaan die Grondwet verander word?
“Derdens kyk ons na verhoogde besteding en sal dié wat inkomste verdien, verder belas word met sowat 3% van ons bruto binnelandse produk (BBP),” het Van den Heever die langverwagte NVG aan Rapport verduidelik.
Volgens Van den Heever blyk dit dat uit-die-sak-besteding nie op die oog af wesenlik gaan verander nie, maar waar ’n mediese skema nou 90c uit R1 bied omdat risiko saam deur lede gedra word, sal die NGV elkeen sowat 10c uit R1 gee omdat die bydraes verder versprei moet word, ook na diegene wat nie ’n inkomste verdien nie.
Cobus Venter, direkteur van Econex, meen inkomsteverdieners sal hul mediese skemas behou omdat die voordele wat die NGV mens bied, nie kan vergelyk kan word met wat tans geniet word nie.
“Dit is nie realisties om te aanvaar dat vrywillige bydraes aan private versekering eenvoudig vervang kan word deur verpligte NGV-bydraes nie. Hoewel die NGV sekerlik goed is vir dié wat nie kan bydra nie, is ons belastingbasis baie klein relatief tot die bevolking. Mense sal bykomende versekering nodig hê,” het hy aan Rapport gesê.
Venter is tog hoopvol dat die NGV uiteindelik die openbare gesondheidsektor ’n hupstoot sal gee wat beter sorg sal bied vir die miljoene Suid-Afrikaners wat daarvan afhanklik is.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Rapport