Gesondheidshoof vas nadat hy glo dronk ry
2010-12-30 10:00
Polokwane. – Dr. Aggrey Morake, hoof van die departement van gesondheid in Limpopo, is Woensdagoggend weens beweerde dronkbestuur in die stad in hegtenis geneem.
Kol. Motlafelo Mojapelo, hoof van polisiekommunikasie in Limpopo, het gesê Morake is omstreeks 01:00 in die woonbuurt Peninapark gearresteer.
Morake is in sy Mercedes-Benz by ’n polisie-padversperring afgetrek.
Mojapelo het gesê die polisielede kon sien Morake is dronk. Dit is onduidelik of bloedtoetse gedoen is en hoe ver bo die maksimum toelaatbare alkoholvlak Morake na bewering was.
Morake is ná sy arrestasie na die stad se polisiekantoor geneem waar hy in die selle in aanhouding was.
Hy het Woensdagoggend vlugtig in die landdroshof verskyn.
Hy is op borgtog van R2 000 vrygelaat.
Cecil Motsepe, woordvoerder van die gesondheidsdepartement, het gistermiddag gesê hy is bewus van Morake se inhegtenisneming.
Hy kon nie sê of die departement enige tugstappe teen Morake oorweeg nie.
Morake is sedert Junie die hoof van die gesondheidsdepartement. Hy is November geroskam tydens ’n verskyning voor die Limpopo-wetgewer se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor).
Morake het aan Skoor erken hy het verkeerde inligting vir hulle gegee oor tugstappe wat gedoen moes word teen werknemers van die gesondheidsdepartement.
Morake is gevra om verslag te lewer oor die 250 werknemers wat verlede jaar glo voordeel getrek het uit sowat R60 miljoen se tenders.
Hy het eers gesê die skuldige werknemers is vir twee maande geskors en hulle sal die geld terugbetaal.
Hy kon geen stawende dokumente verskaf nie.
Morake het in November voor Skoor erken daar is geen stappe gedoen teen die skuldige werknemers nie.
Cassel Mathale, Limpopo se premier, het verlede week aangekondig die departement van gesondheid en maatskaplike ontwikkeling gaan in twee gedeel word.
Morake sal van Januarie af die hoof van die departement maatskaplike ontwikkeling wees. Me. Deliwe Nyathikazi, ’n voormalige hoof van die departement sport, kuns en kultuur, sal die waarnemende hoof van die departement van gesondheid wees totdat die pos gevul word.
Morake moet môre weer in die landdroshof verskyn.
- Beeld